Sê MY DOKTER - DIE MEES ALGEMENE VRAE WAT MENSE VRA
(In hierdie rubriek wat kwartaalliks in DIE GESONDLEEF BULLETIN gepubliseer sal word, sal ek vrae beantwoord waaroor lede duidelikheid wil hê.)
Hier onder is vrae wat pasiënte onlangs aan my gevra het.
Vraag: Ek was al soveel keer op behandeling en inspuitings vir my gewig en het al soveel diëte en kruie en masjiene gebruik. Elke keer tel ek weer die gewig op wat ek verloor het en eintlik word ek elke keer vetter. Wat is die rede?
Antwoord: Dit is duidelik dat daar iets in jou gestel is wat wil keer dat jy gewig moet verloor, soos jy dit stel. Alle vet mense het hierdie klagte, en statistiek oor die hele wêreld beaam dit dat vetsug op die lang termyn feitlik onbehandelbaar is. En alle vet mense is tog nie swakkelinge sonder wilskrag nie. Baie vet mense is eintlik suksesvol in hulle beroepe. Die rede is dat jou gestel 'n instelpunt vir 'n sekere vetgewig het. Dit berus op twee meganismes. Die een is naamlik dat jou gestel die aktiwiteit van die ensiem vet LPL verhoog nadat jy gewig verloor het, sodat jou vetweefsel daarna makliker vette kan stoor. Ek dink daar is nog 'n tweede meganisme wat hierdie instelpunt reguleer. Dit is naamlik dat daar in jou onbewuste 'n geheuefoto in die vorm van 'n driedimensionele beeld is wat sê hoe mollige Mollie of vet Vaatjie moet lyk. Ek bespreek dit later volledig in die hoofstuk oor gedragsmodifikasie. Daar sal jy ook sien dat mens nie sê : ek wil gewig verloor nie, want dit impliseer verlies van iets, en jou onbewuste gaan daarvoor kompenseer deur daardie gewig weer vir jou op te tel .
Vraag: Nou goed, gaan hierdie GESONDLEEFPLAN my help om te verslank?
Antwoord: Mooi so, jy wil nie net verslank nie, maar jou gewig permanent onder beheer hê . Die gesondleefplan gaan jou leer hoe om daardie instelpunt vir jou gewig laer in te stel. Gaan dit vir jou werk? Dit hang daarvan af of jy nog ongekunsteld na die lewe kan kyk en nie heeltemal verblind is deur moderne tegnologie nie: ontwikkeling van farmaseutiese middels wat geheue verbeter; elektroniese apparaat wat weereens die geheue verbeter of operasie wonde en ander beserings gouer laat herstel. Waarom kan daar dan nie 'n pil of 'n masjien teen vetsug wees nie? Dit is so. Maar by die behandeling van vetsug moet jy snap wat die primêre oorsaak van vetsug is, en dat jy daardie gebrek moet regstel. As ek vir jou sê die laboratorium verslae toon dat jou skildklier onaktief is, help dit nie dat jy alles doen wat hierdie boek sê , maar nie pligsgetrou elke dag jou skildklierpil neem nie.
Vraag: Wat is dan die oorsaak van vetsug?
Antwoord: Reeds in 1961 het Dr Hans Kraus dit beskryf as 'n hipokinetiese siekte. Dit wil sê 'n siekte as gevolg van 'n gebrek aan beweging, 'n oefeningsgebrek siekte. Hiervoor kan daar mos nou net een behandeling wees en dit is werklike fisiese spieroefeninge op 'n daaglikse basis. Die doel van die GESONDLEEFPLAN is juis om hierdie harde realiteit te versag deur aan jou 'n oefeningsmetode voor te hou wat aangenaam en maklik en sag op jou gewrigte en rug is en slegs 12 minute van jou tyd per dag vra. Net so aangenaam en effektief is dit om elke dag te stap, maar dan vir 20 minute.
Vraag: Is dit al? Dis so eenvoudig.
Antwoord: "Werp al julle bekommernisse op My en Ek sal julle rus gee." So eenvoudig, maar doen ons dit? Kom ek gee 'n voorbeeld. Op 29 September 1984 het Mev ACM v. S. my kom spreek met hartversaking en ongekontroleerde diabetes. Haar bloeddruk was 210/110 (normaal 120/80). Sy het baie suiker in haar uriene gehad ten spyte van insulien inspuitings en 'n antidiabetiese pil. Haar gewig was 102kg en haar lengte 170 cm, dus met 'n liggaamsmassa indeks van 35,3. Iiemand met 'n LMI van 30 en meer het vetsug en is nie net oorgewig nie. Die normale LMI is 23 tot onder 25. As jou LMI 25 en meer is, is jy oorgewig. Mev v. S. kon vir oefening slegs stap soggens. Eers net 'n paar minute, totdat sy later 20 minute elke oggend kon stap. Ek moes haar dieët voorskrifte eenvoudig hou: geen stysel, behalwe 1 sny heelgraan brood per dag en groentes wat bokant die grond groei en 'n appel en 'n peer per dag met proteïene, liefs vis en hoender, en natuurlike jogurt. Op 6 Augustus 1987 staan die volgende inskrywing op haar lëer: Gewig 72 kg, BD 152/80, pols rëelmatig, geen suiker in haar uriene, gebruik slegs een metformin 850 mg tablet per dag, geen insulien meer nie. Op 4 Januarie 1993: geen suiker, gewig 70 kg (LMI 24,5). Die LMI word as volg bereken: gewig in kg ÷ lengte in m 2 : 70 ÷ 1,7x1,7 = 70 ÷ 2,89 = 24,5.
Vraag: Ek het 'n rugoperasie gehad en ek voel onveilig om soggens te gaan stap. Hoe kan ek oefen?
Antwoord: Mej M M. het my op 5 Februarie 1999 kom spreek oor haar gewig. Sy was 29 jaar oud, gewig 113kg, lengte 1,68 cm; LMI dus 40. Dit maak haar 'n kandidaat vir vetsug chirurgie. Ongelukkig het sy twee maande tevore haar enkel sodanig gebreek dat dit geopereer moes word. In oorleg met haar fisioterapeut het ek vir haar 'n trampolien laat aanskaf. Dieët voorskrifte was weereens soos vir Mev v. S., met fruktose as eetlusdemper. Op 12 November 1999 het sy 83 kg geweeg, LMI 29,4., wat haar nog oorgewig maak maar nie meer vetsugtig nie. Ek hoop dit antwoord met 'n omweg jou vraag. Want by haar, en by jou met 'n rugprobleem, is die eerste stap om gewig te verminder. Wat jou rugprobleem betref: aanvanklik moet jy net stap op die trampolien en dan geleidelik begin draf. As jy enige ongemak na oefening ervaar, hou die oefening by stap op die trampolien. Ek was al 'n paar oggende aangenaam verras met 'n rugpyn wat verdwyn het na my gewone oefeninge op die wipmat. Maar as jy enigsins twyfel, moet jy jou geneesheer raadpleeg. Raadpleeg jou geneesheer en fisioterapeut ook oor oefeninge om jou rugspiere te versterk. Onthou, alle gewig wat jy verminder, bevoordeel uiteidelik jou rug.
Vraag: Ek is baie onfiks. Sal ek nie my gestel ooreis nie?
Antwoord: Hier moet jy jou deur jou hartspoed laat lei. Ek gebruik Karvonen se formule om die optimale oefen hartspoed(HSoef) te bereken: HSoef = 0,6(HSmaks - HSrus) + HSrus. Eers word jou HSmaks (maksimum hartspoed) bereken: 220 - ouderdom(40 jr)= 180. HSrus is jou rustende polsspoed soggens vroeg. Kyk op die horlosie en tel jou aantal polsslae oor sestig sekondes. Gestel dit is 72. Nou kan ons die berekening voltooi: HSoef = 0,6(180 - 72) + 72 = 0,6x108 + 72 = 64,8 + 72 = 136,8 = 137. Dit is ongeveer 75 persent van jou maksimum hartspoed. Hierdie formule neem in ag dat jou hartspoed gaan daal as jy fikser word en dat jy dan ietwat vinniger moet draf sodat jou spiere nog die oefen effek van die oefening ervaar.
© Gesondleef