OORGEWIG MEER AS WAT DIE OOG SIEN

 

Dit is soos die sigbare ronde punt van die ysberg, wat die onoplettende skeepsman se skip kan sink. So is oormatige vet slegs die uiterlike teken van ‘n siek metabolisme, wat lei tot chroniese siektes, en ‘n kort lewensverwagting.

 

Wat maak ons vet? In die tydperk dertig duisend tot vyf duisend jaar voor Christus, was daar vir ons oer voorouers skielik minder voedsel om van te oes en te jag. En na die tweede hongersnood het die mens ‘n nuwe geen ontvang. Dié spaarsinnige geen het aan die mens die “gawe”gegee om voedsel as vet te kan opgaar in skaars tye. Maar ons oergrootjies het later landbouers geword en voedsel in skure opgeberg teen die maer jare. Die spaarsinnige geen, nou oortollig, het derhalwe dormant geraak.

 

Tot in die twintigste eeu. Homo sapiens, die wyse, het toe so slim geword dat hy alle bewegingsaktiwiteite gedelegeer het na selfaangedrewe werktuie. En homo sedens het só, as sittende slaaf, geïmobiliseer deur sy eie tegnologie, homo obesus, die vette, geword. En via die massa media is hy nou verder verslaaf aan al die kits diëte van die Maermaak Industrie, waarvan die meeste benadruk dat jy nie hoef te oefen nie..

 

Daarom word jy weer vet. En na die tweede gewigsiklus van vet verloor en weer optel, ontwaak die spaarsinnige geen uit sy diepe slaap, om die liggaam te help vet opgaar as beskerming teen die derde “hongersnood.”. Dit geskied deur jou liggaam insulien weerstandig te maak, sodat jou spiere nie bloedsuiker kan verbrand nie, maar gestoor word as vet..En omdat jou spiere ontaard het as gevolg van te min oefening, kan dit nie die vetsure verbrand nie.

 

Jy het nou metaboliese sindroom X onder lede, wat uiteidelik lei tot dié groep dodelike siektes:  suikersiekte, hoë bloeddruk, hoë cholesterol, slagaarverkalking, hartaanvalle en hormoonvesteurings by die vrugbare vrou. En so is die mens nou op aarde in sy laaste fase as homo morbidens, die sieke.